Sunday, 13 September 2015

Week 8 - siek!

Week 8 was aaklig met die dat ek siek was! Ek het deur die dae gekruip en dit net-net gemaak tot Vrydag! Maar snaaks genoeg, sodra mens voor 'n klas staan en die klas aanbied, dan voel jy piekfyn!

Ek het die week afgeskop met 'n joga-klas vir die Gr.10-dramaklas - sjoe! Hierdie keuse was gemaak toe die leerders vir my vra, na afloop van die stage combat klas, wat kan hulle doen om fiks te raak vir die fisieke dele van Drama. Joga was dan die natuurlike antwoord, want ek het self joga gedoen in my finale jaar as deel van die Fisieke Teater module! Ek het natuurlik 'n beginnersles vir hulle saamgestel met 'n paar basiese bewegings. Opwarming en afkoeling was natuurlik ook baie belangrik, Almal het die les baie geniet. Selfs die onderwyseres het deelgeneem! Ons almal was bloedrooi in die gesig en nat gesweet na 'n 30 minute les, maar dit was alles die moeite werd! Die leerders het die volgende dag na my toe gekom en gebieg dat daar spiere styf is wat hulle nie eers geweet het bestaan nie! Die onderwyseres meen sy is nou geinspireerd om weekliks joga te beoefen. Definitief 'n geslaagde les!

Ek het dan ook stage combat vir die Gr.11-dramaklas aangebied. Hulle het dit baie geniet, veral die seuns. Ek was baie beindruk met een seun spesifiek, want die afgelope tyd het ek opgelet dat hy nie te gretig is om op die verhoog te wees en is dikwels skaam, maar hy het heeltemal uit sy dop gekruip met hierdie klas en het dit die beste van almal begryp! Elke tegniek het hy sy eie gemaak en het selfs ander bewegings bygesit om sy klein toneel baie geslaagd gemaak. Maar daarmee saam was die meisies net so gretig vir hierdie klas - ek dink hulle kon al hul frustrasies uitkry...Ek het almal se klein tonele opgeneem en gaan volgende week dit vir hulle speel tydens 'n periode. Dit is vir my belangrik dat elke akteur en aktrise hulself sien werk, want baie keer ontvang hulle kommentaar maar weet nie noodwendig hoe om sin te maak daarvan nie. Die opname dien dan as 'n middel wat hulle kan gebruik om sin te maak van kommentaar, of dan nou om self iets te sien waarop hulle wil verbeter. Tydens die opvoer van hulle tonele, was daar 'n toergroep van Amerika wat die skool besoek en hulle wou graag sien hoe die Dramaklas lyk. My leerders wou baie graag vir die toergroep hulle tonele wys, en ek het gese almal wat gemaklik is om te wys is meer as welkom om dit te doen. Ek moet bieg, ewe skielik het almal se tonele Engels geword en het vele bewegings bygekry wat nie voorheen daar was nie...wat hulle nie alles sal doen vir 'n gehoor nie! 

Vrydag sluit ons die dag af met seksiebyeenkoms - dit was nou 'n sonverwante gedoente! Ek het heeldag die aankondigings gedoen bo in die klubhuis, terwyl die res van die skool op die pawiljoen en op die veld was. Die Gr.11-groep het gewen vir volgehoue gees asook vir die meeste punte aangeteken met beide baan- en velditems. Een ding is verseker - ten spyte van die feit dat dit 'n Vrydag was, en 'n baie warm dag daarby, Bellville-leerders het baie gees en sal bloedrooi brand solank hulle graadgroep kan wen.

Een week oor - die tyd het beslis gevlieg! Maandag sien ek my Gr.10-dramaklas vir hul eerste opvoering van hul eksamenwerk asook 'n tweede opvoering van 'n stage combat toneel wat hulle oor die naweek moes saamstel. Dinsdag kom my Drama dosent om my kritles by te woon...ek is baie opgewonde vir hierdie les, want ek gaan comic book theatre doen saam met my Gr.11-dramagroep. Ek weet sommer hulle sal dit baie geniet! 

Ek moet bieg - aanvanklik kon ek nie wag vir 9 weke om verby te vlieg nie, maar nou hoop ek maar week 9 gaan baie s t a d i g verby.

1 comment:

  1. Sounds like you have those students eating out of your hand. It's sounds like your experience was an overall enjoyable one. May your last week there be as good as all the others. Take some pics of yourself with your classes. Good memories to reflect on one day when you too are an experienced teacher. Best wishes.

    ReplyDelete