Tuesday, 22 September 2015

Week 9 - nie totsiens nie, maar tot volgende keer!

Ek het week 9 afgeskop met 'n groot teerpunt in my hart - die wete dat, wanneer die klok Vrydag lui vir die einde van die dag, is my proeftydperk verby. Ek was taamlik teneergedruk en pessimisties, maar het gou besef dat ek 'n ommekeer van my emosies sal moet ondergaan om te verseker dat ek die laaste paar dae my tyd by die skool geniet.

Eerstens het ek gesorg dat ek elke Dramaklas van beide Gr.10 en Gr.11 bywoon. Die Gr.10-klas is besig met voorbereiding vir hul praktiese eksamen. Die een groep meisies van die Gr.10-klas het uitstekende werk gelewer met hul eerste "optrede" van hul toneeluittreksel. Hulle was alreeds woordvas en het goeie kennis gehad van hul karakters, maar ongelukkig was daar nog geen bewegings uit gepluis  ie. Aangesien hulle alreeds so ruim voorbereid was, kan dit nou net beter word van hier af. Ek het hulle definitief komplimenteer op die feit dat hulle die enigste groep is wat alreeds woordvas is! En in dieselfde asem het ek bietjie vuur gemaak onder die res, want die eksamen is om die draai en om 'n toneeluittreksel te doen is nie soos om vinnig die aand voor die tyd vir 'n toets te leer nie!

Die Gr.11-klas was besig met voorbereiding vir my laaste kritles wat Woensdag sou plaasvind. Hulle het nie Dinsdag klas gehad nie, so ek het hulle Maandag net vlugtig deur die proses (klas) gepraat wat Woensdag sou volg. Dit was vir my ook belangrik om hulle bewus te maak van die feit dat daar 'n vreemdeling binne ons veilige ruimte gaan wees, maar dat hulle net op my moet fokus en die taak op hande. Maar hulle was 'n absolute droom! Hulle het met die dosent kommunikeer asof hy al jare lank by die skool is en op hierdie manier vir ons almal op ons gemak gemaak. Die les was 'n reuse sukses waarin alle partye baie geleer het. Die leerders het dit so geniet dat hulle die volgende dag sommer vir die klasonderwyser gewys het wat ons vir prakties gedoen het. Dit was opreg vir my 'n absolute fees om saam met die Gr.11-dramaklas te werk. 

Na Woensdag was die leerders ietwat gespanne. want dit was tyd vir leierverkiesings. Baie van die leerders in die Dramaklasse het gestaan vir Seniorleiers. In beide klasse het die onderwysers 'n gesprek gehad oor die resultate van die verkiesings. Ek kon sien dat daar van hulle is wat hul hele hoërskoolloopbaan op hierdie een verkiesings laat rus. baie tyd en energie is in beslag geneem vir die skryf van die toespraak wat die graad sal oorreed om hom of haar te kies. So dit was so belangrik dat die onderwysers gemeld dat indien jy verkies word tot leier, welgedaan en mag dit 'n goeie jaar wees, maar indien jy nié verkies is tot leier nie, dan is dit ook ok, want daar is 'n rede dat dit nie nou jou tyd is nie. En ek kon sien dat dit met die leerders resoneer en dat hulle dit verstaan, maar tog is dit makliker gesê as gedaan. Die Gr.10-onderwyseres het my Maandag laat weet wie van die Dramaleerders verkies is, en ek moet bieg ek was ruim trots op elkeen van hulle!

Toe Vrydag aanbreek was daar werklik 'n knop in my keel. Die ander proefstudente het gevra dat ek net ietsie in die personeelkamer sê rondom ons ervaring en dankbaarheid toon. Oppad skool toe het dit heeltyd in my kop gemaal wat ek sou sê, maar die oomblik toe ek in daardie personeelkamer instap, het ek onmiddelik geweet. Nog voordat ek 'n woord kon uiter, het ek alreeds 'n traan gepik - ruim bewys dat hierdie afgelope 9 weke werklik sentimentele waarde heg. In die klasse het leerders vir my briefies gegee saam met sjokolade en blomme om dankie te sê vir 'n genotvolle tyd en dat hulle soveel by my kon leer. Die Gr.10-drama-onderwyseres het ook vir 'n geskenkie gegee en gesê dankie dat sy soveel by my kon leer. My mentor-onderwyser het die mooiste geel rose gegee en dankie gesê vir al my harde werk en insette wat ek gelewer. Ek het nie een van hierdie geskenke verwag nie, maar dit was vir my 'n aanduiding dat ek myself goed van my taak gekwyt het. Ek het dan ook toevallig vir die onderwyseres ietsie kleins gekoop by wie ek leswaarnemings gedoen het asook lesaanbiedings gehad het. En almal het net soveel lof gehad oor my - werlik 'n geseënde ervaring waarin ek onsaglik baie geleer het en myself gate uit geniet het!

Die onderrig van jong volwassenes is werklik 'n eer, 'n voorreg en 'n absolute fees! Ek het werklik hierdie 9 weke terdeë geniet en kan dit maklik beskryf as een van my beste ervaringe van my lewe! Ek sal my proeftydperk by die Hoërskool Bellville vir niks verruil nie. 

Hoërskool Bellville
Paratus ad omnia

Sunday, 13 September 2015

Week 8 - siek!

Week 8 was aaklig met die dat ek siek was! Ek het deur die dae gekruip en dit net-net gemaak tot Vrydag! Maar snaaks genoeg, sodra mens voor 'n klas staan en die klas aanbied, dan voel jy piekfyn!

Ek het die week afgeskop met 'n joga-klas vir die Gr.10-dramaklas - sjoe! Hierdie keuse was gemaak toe die leerders vir my vra, na afloop van die stage combat klas, wat kan hulle doen om fiks te raak vir die fisieke dele van Drama. Joga was dan die natuurlike antwoord, want ek het self joga gedoen in my finale jaar as deel van die Fisieke Teater module! Ek het natuurlik 'n beginnersles vir hulle saamgestel met 'n paar basiese bewegings. Opwarming en afkoeling was natuurlik ook baie belangrik, Almal het die les baie geniet. Selfs die onderwyseres het deelgeneem! Ons almal was bloedrooi in die gesig en nat gesweet na 'n 30 minute les, maar dit was alles die moeite werd! Die leerders het die volgende dag na my toe gekom en gebieg dat daar spiere styf is wat hulle nie eers geweet het bestaan nie! Die onderwyseres meen sy is nou geinspireerd om weekliks joga te beoefen. Definitief 'n geslaagde les!

Ek het dan ook stage combat vir die Gr.11-dramaklas aangebied. Hulle het dit baie geniet, veral die seuns. Ek was baie beindruk met een seun spesifiek, want die afgelope tyd het ek opgelet dat hy nie te gretig is om op die verhoog te wees en is dikwels skaam, maar hy het heeltemal uit sy dop gekruip met hierdie klas en het dit die beste van almal begryp! Elke tegniek het hy sy eie gemaak en het selfs ander bewegings bygesit om sy klein toneel baie geslaagd gemaak. Maar daarmee saam was die meisies net so gretig vir hierdie klas - ek dink hulle kon al hul frustrasies uitkry...Ek het almal se klein tonele opgeneem en gaan volgende week dit vir hulle speel tydens 'n periode. Dit is vir my belangrik dat elke akteur en aktrise hulself sien werk, want baie keer ontvang hulle kommentaar maar weet nie noodwendig hoe om sin te maak daarvan nie. Die opname dien dan as 'n middel wat hulle kan gebruik om sin te maak van kommentaar, of dan nou om self iets te sien waarop hulle wil verbeter. Tydens die opvoer van hulle tonele, was daar 'n toergroep van Amerika wat die skool besoek en hulle wou graag sien hoe die Dramaklas lyk. My leerders wou baie graag vir die toergroep hulle tonele wys, en ek het gese almal wat gemaklik is om te wys is meer as welkom om dit te doen. Ek moet bieg, ewe skielik het almal se tonele Engels geword en het vele bewegings bygekry wat nie voorheen daar was nie...wat hulle nie alles sal doen vir 'n gehoor nie! 

Vrydag sluit ons die dag af met seksiebyeenkoms - dit was nou 'n sonverwante gedoente! Ek het heeldag die aankondigings gedoen bo in die klubhuis, terwyl die res van die skool op die pawiljoen en op die veld was. Die Gr.11-groep het gewen vir volgehoue gees asook vir die meeste punte aangeteken met beide baan- en velditems. Een ding is verseker - ten spyte van die feit dat dit 'n Vrydag was, en 'n baie warm dag daarby, Bellville-leerders het baie gees en sal bloedrooi brand solank hulle graadgroep kan wen.

Een week oor - die tyd het beslis gevlieg! Maandag sien ek my Gr.10-dramaklas vir hul eerste opvoering van hul eksamenwerk asook 'n tweede opvoering van 'n stage combat toneel wat hulle oor die naweek moes saamstel. Dinsdag kom my Drama dosent om my kritles by te woon...ek is baie opgewonde vir hierdie les, want ek gaan comic book theatre doen saam met my Gr.11-dramagroep. Ek weet sommer hulle sal dit baie geniet! 

Ek moet bieg - aanvanklik kon ek nie wag vir 9 weke om verby te vlieg nie, maar nou hoop ek maar week 9 gaan baie s t a d i g verby.

Sunday, 6 September 2015

Week 7 - Stage Fighting!

Week 7 het vinnig verby gegaan. Ek is beslis in 'n roetine en alles voel nou al tweede natuur.

Daar was 'n paar toesigperiodes wat ek gekies het, maar ek kies dan die vakke wat in my rigting is. Ek het dus die klasse geniet waar ek Skeppende Kuns vir Gr.8's moes aanbied. Hulle het nou almal 'n opdrag waar hul 'n ruimte moet kies en 'n kort toneel skep binne 'n gegewe teatervorm. Ek het in elke klas net vlugtig deurgegaan wat die belangrike punte is wanneer 'n mens 'n toneel skep. Die leerders het dit nou beter verstaan en het dit geniet om te begin werk aan hulle stukke. Hulle het werklik kreatiwe idees en ek het almal aangemoedig om buite die boks te dink. Die Juffrou het Vrydag tydens pouse na my toe gekom en om dankie te sê dat ek haar klas so mooi gehelp het en opgewonde gemaak het oor die taak.  

Donderdag het ek Stage Combat (Stage Fighting) vir die Gr.10-dramaklas aangebied. Dit was nou ruim pret! Ek het 'n dubbel periode gehad (met ander woorde 'n 85 minute les) waarin ons kortliks teorie behandel het, gevolg deur veiligheidswenke en toe die aanleer van die verskeie tegnieke. Daarna het hulle tyd gekry om van die tegnieke saam te sit en 'n kort toneel te skep. Hierdie tonele het ek opgeneem en ons het tydens die Vrydagperiode daarna gekyk en ek kon terugvoer gee. Die leerders het dit baie geniet om hulself te sien ek kon maklik raak sien waar hulle 'n fout gemaak het en waar hulle kan verbeter.

Die Matrikulante het Vrydag begin eksamen skryf en daar was ietwat 'n gespanne atmosfeer wat onder hulle geheers het. Onderwysers het die week gebruik vir laaste wenke gee en ekstra klasse aanbied, maar mens kan sien hulle wil nou klaarmaak en aanbeweeg na die toekoms. Hier en daar was ekstra klasse in skooltyd aangebied, met ander woorde jonger grade was ingedeel vir toesig sodat die matrikulante kon klas hê. EK verstaan dat die onderwysers die ekstra myl vir die matrikulante wil loop, maar ek dink nie dit moet gebeur ten koste van die jonger grade nie. Ek hoop net die matrikulante waardeer die onderwysers se moeite en dat hulle hard sal leer vir die eksamens.

Maandag doen ek 'n yoga-klas saam met die Gr.10-dramaklas. Hulle weet dit is belangrik om al die fynspiere ook te beoefen om sodoende maksimaal hulle liggame te kan gebruik. Ons doen dan hierdie klas ter voorbereiding vir hulle stage combat toneel wat hulle moet skep vir Dinsdag se periode. Daarmee saam wys hulle dan ook vir die eerste keer hul toneeluittreksel vir die opkomende eksamen. 

Nog twee weke oor van proef waarin daar nog een kritles moet plaasvind. Week 8 skop sommer af met 'n dag vol toesig.

Sunday, 30 August 2015

Week 6 - kritles met dosent

Hierdie week het afgeskop met my eerste les gekrit deur 'n dosent. Ek het alreeds verlede week besluit op wat ek gaan onderrig en dus was ek ruim voorbereid vir Maandag se les tydens periode twee.

Die leerders was ietwat tydens stil gedurende die les...'n vreemde verskynsel, veral siende dat hul baie geselserig was met die vorige lesse wat ek vir hulle aangebied het. Maar, na afloop van die les, het hulle my gou laat weet dat dit "baie vreemd is met die Oomie in die klas...". En omdat hulle so stil was, het dit swak reflekteer op my punt. Maak nie saak hoe opwindend my les was nie, is dit vir kinders vreemd, "awkward" en nogal "weird" as daar ewe skielik hierdie vreemdeling binne hul leeromgewing is. Dit maak die hele proses taamlik kunsmatig. Daar is soveel elemente wat ingebring moet word volgens die rubriek, maar die tyd is so min om als gedoen te kry. Dit is nie so aangeplak as mens werklik in die onderwyssisteem is nie. Maar nietemin, die lesaanbieding was pret en die leerders het dit tog geniet. Ek het nie die punt gekry wat ek verwag het nie, maar aan die einde van die dag was dit net vir my belangrik dat ek en die leerders dit saam geniet.

Die res van die week is vinnig verby. Ek het talle praktiese Dramaklasse aangebied - en dit geniet ek altyd baie. Daar was weereens 'n paar klasse waar ek moes toesig hou, maar die keer het ek probeer om die leerders beter te leer ken. Ek het met die matrikulante gesels oor volgende jaar se planne; met Gr.11'e het ons gepraat oor verantwoordelikheid neem in terme van huiswerk voltooi en altyd vooruitstrewend probeer wees in alles wat hulle doen. Ek besef elke dag watter groot impak 'n onderwyser het op 'n kind se lewe. En dit is werklik 'n spesiale eer om hierdie boompies te buig terwyl hulle nog jonk is.

Sien uit na week 7...die tyd raak nou min. 

Sunday, 23 August 2015

Week 5 - INTERSKOLE!

Week 5 het gesorg vir verskeie opgewondenheid en ruim energieke leerders! Periodes was kort en kragtig en almal het gees gehad. Om dus 'n les aan te bied hierdie week was nou nie juis die gewenste tyd nie...

Die leerders het elke dag volgens 'n tema aangetrek. Dit was baie duidelik wie gees gehad het en wie eintlik maar net suurstof diewe was. Selfs die jonger onderwysers het rondgestap met geverfde gesigte en maskers. Die gange was versier met plakkate en leerders wat onsamehangend net rond hang. Die onderwysers moes hul dissiplinering ietwat opskerp hierdie week om sodoende nog optimaal lesse te kon aanbied, Maar daar was maar 'n onderduimse energie wat almal op hul tone gehou het.



Woensdag en Donderdag het elkeen 'n pouse gehad van 'n uur lank. In hierdie pouse was daar afsonderlik Touchies en Netbal gespeel - onnies teen die matrikulante. Die onderwysers was werklik meer opgewonde as die kinders! Hulle het toerusting gehad wat bymekaar pas tesame met onnies wat met pom-poms elke nou en dan oor die veld trippel. Leerders het hul gate uit geniet terwyl massiewe luidsprekers Trance musiek uitbasuin.







Die leerders was taamlik gehoorsaam, alhoewel ietwat onrustig by tye. Selde was daar leerders wat stokkies gedraai het of werklik probleme veroorsaak. Nou en dan was daar 'n leerder wat uitgestuur was, maar hulle het sommer vinnig hul les geleer. Tot en met Donderdag toe die leiers besluit dat daar 'n "massa bunk" gaan plaasvind, vir gees vang doeleindes. Dit gebeur toe dat meer as 70% van die skool, na die einde van 2de pouse, na die onderste pawiljoene stap terwyl hulle snig en vlaggies waai. was natuurlik baie pret vir hulle, selfs 'n onderwyser of twee het gedink dit is vir 'n goeie doel. Maar die hoof en vise-hoof van dissipline het glad nie gedink dit is oulik. Kort voor lank was die manspersoneel onder by die pawiljoene en het die leerders terug klasse toe gestuur. In die klas was daar 'n afkondiging dat register geneem moet word en binne die volgende 3 minute afgestuur moet word na die kantoor. Natuurlik aan die einde van die dag was die hoof self aan die woord met die afkondigings (iets wat nooit gebeur nie) met die oog daarop dat hy met die leerders gaan praat. Hy voltooi dus die afkondigings gevolg deur 'n vlugtige praatjie - "indien julle Saterdagoggend dieselfde gees kan toon soos wat julle vroeer getoon het met die massa bunk, sal ek vergeet van die reel wat julle oortree het". Die kinders het gejuig in die klasse en was baie beindruk met die hoof se besluit.


Saterdag was die groot dag vir Netbal en Rugby. Ek het ongelukkig Vrydagoggend ontwaak met erge griep, maar was tog nogsteeds daar vir die Netbal en Rygby. Die skool het in groot getalle opgedaag vir ondersteuning en het hul longe uitgesing met die Rugby. Dit was werklik 'n pragtige toonbeeld van skooltrots!


Ek het wel twee lesse aangebied hierdie week - georganiseerde chaos en al! My Graad 10-dramaklas het gesukkel met fokus toe kinders verby hardloop en skreeu "Bellville Bo!" in die gang. Maar ek het sommer gou daardie spul gestop en terug in hul klasse gekry en sodoende was my klas ook weer op hul plek. Die Graad 9-Afrikaansklas was 'n droom die Vrydag, selfs met die 30 minute les. Ek het vanselfsprekend nie klaargekry met die ontleding van die gedig nie, maar hulle was baie gehoorsaam en goed saamgewerk al was hulle ruim opgewonde oor 13:00 huistoe gaan!

Hierdie week was 'n fees - selfs met die griep en energieke tieners wat gees vang! As onderwyser moet jy deelneem aan die gees vang, want dit wys vir die leerders dat jy kan speel wanneer die tyd reg is, maar ook gefokus werk op ander tye. "Work hard, play harder" was maar my leuse vir week en ek het als gedoen gekry sonder 'n gejaag.


Sunday, 16 August 2015

Week 4 - stap vir stap

Week 4 was heelwat genotvol. Ek het ‘n handjievol lesse aangebied en is op datum. Maar toe ek hoor ander studente is alreeds op hul twaalfde les, toe is ek ietwat onkant gegooi. Maar ek het gou genoeg besef dat elkeen sy eie unieke pad volg met hierdie proeftydperk, en my pad behels nie om op hierdie stadium alreeds op les 11 te wees nie.

Ek het drie Afrikaanse lesse aangebied hierdie week. Letterkunde maak deel uit van my drama passie, dus is dit vir my lekker om lesse aan te bied oor die letterkunde. Hierdie week het ek voorgeskrewe gedigte aangebied vir Graad 11 en 12. Snaaks genoeg is die Graad 11-groep se gedigte soveel moeiliker as die van die matrikulante. Ek het baie gesukkel met die aanbied van D.J. Opperman se Vincent van Gogh. Dit is ‘n gedig wat ‘n onderwyser telkemale sal moet aanbied voordat mens werklik die crux daarvan kan verstaan. Ek het hierdie gedig gekies as ‘n uitdaging, maar het dit werklik moeilik gevind om dit op so ‘n wyse aan te bied dat die leerders dit toeganglik kon vind. Dit het my dus twee periodes geneem om aan te bied. Ek glo as ek meer tyd gehad het om myself te vergewis met die analisering van die gedig, sou dit ietwat makliker gewees het.

Die ander gedig, Expensive ekstratjie, was weer baie lekker om aan te bied! Dit was ‘n aangename klas wat lekker saam gesels het oor die beelde wat die digter skep. Ek sien uit daarna om weer vir hulle klas te gee. Die matrikulante was net so ‘n aangename ervaring. Ek het al gehoor dat ‘n hele paar proefstudente ietwat skrikerig is om met die matrikulante te werk óf dat die onderwysers nie altyd vir ons die geleentheid sal bied om met die matrikulante te werk nie. Maar ek was baie gelukkig om nou al vir die tweede keer met die matrikulante te werk en wat ‘n fees is hulle nie! Intelligente gesprekke word gevoer en hulle vind aanklank by iemand wat in ‘n wêreld is wat hulle binnekort gaan betree. In hierdie oomblikke besef ek maar net weer hoeveel impak ‘n onderwyser op ‘n leerder kan hê.

Ek het dan ook ‘n Dramateorie-les aangebied. Dit is maar vir my altyd moeilik om teorie aan te bied binne ‘n praktiesgedrewe vak. Hierdie was ‘n baie belangrike deel van die Graad 11 module en ek het dit op so ‘n wyse aangebied dat dit vir my en die leerders lekker was. Ek het besef dat hierdie klas lief is vir praktiese voorbeelde, veral voorbeelde waarmee hulle kan vereenselwig. Dit maak dit vir hulle maklik om die moeilike terme en konsepte te internaliseer en dit hul eie te maak. Daarmee saam beplan ek ‘n spesifieke praktiese aktiwiteit waardeur hul die teorie kan verpersoonlik en hul eie maak. Hierdie onderwerp van die les het drie periodes geneem vir beide teorie en die praktiese komponent om af te handel. Ek dink dit was plek-plek ietwat ‘n groot lading van informasie wat ek vir hulle gegee het, maar die gebruik van praktiese voorbeelde het darem gehelp om verligting te bring.

Donderdagaand was die skool se Toneelaand. Drie tienertoneelstukke het opgevoer waarvan ek twee gehelp het met die regie. In die kort tydjie wat ek gehelp het, het ek regtig met die leerders ‘n pad gestap. Hulle was baie gretig om te leer hoe om ‘n toneelstuk suksesvol op die planke te bring en het ene ore gestaan om kennis te maak met die fyner kunsies van teater. Die ander proefstudente het ook die aand bygewoon – dit was lekker dat ons mekaar kon geniet met ‘n geleentheid naskool.

Die feit dat ons so baie moet toesig hou, pla my nogsteeds. As dit dalk nog in my vakgebied was wat ek moes toesig hou, is dit verstaanbaar. Maar om toesig te hou in die Tegniese Tekeninge vakgebied, is ietwat verrregaande. Ek glo die proeftydperk is daar vir waarneming en lesaanbieding – daar word absoluut niks geleer met toesighouding nie. Kosbare leergeleenthede word van my ontneem deur gedurige onbenullige toesighouding – selfs voltydse onderwysers word geirriteerd daarmee. Ek gaan in die vervolg ‘n maksimum van twee periodes toesighou waarin ek maar gaan probeer werk voltooi.


Week 5 beloof om baie opwinding te bring met al die insterskole aktiwiteite. Daarmee saam gaan die leerders ook weer min fokus toon as gevolg van hoë energie wat elders gefokus word. Lesinhoud sal op ‘n baie interessante wyse aangebied moet word vir leerders om informasie in te neem. Tog gaan dit ‘n ervaring wees waarvoor ek uitsien!    

Sunday, 9 August 2015

Week 3 - 'auto pilot'

Week 3 was belaglik besig! Ek was op 'auto pilot' en skaars geregistreer wat aan die gebeur was. Nietemin was dit suksesvol met verskeie hoogtepunte!

Ek het twee Afrikaanse-lesse aangebied: Gr.8 het die gedig "Toemaar die donker man" deur Ingrid Jonker analiseer terwyl die Gr.12-klas "Kwatryne" deur Ina Rousseau ontleed het. Albei is voorgeskrewe gedigte vir die eksamens, so ek moes dus seker maak dat ek ruim voorbereid was. Tot my verbasing het die Gr.8's baie insiggewende kommentaar gelewer - mens dink mos maar altyd dat Gr.8's nie eintlik goed deurdinkte opinies kan lewer. Aan die anderkant was die matrikulante weer doodstil - Rousseau se Kwatryne handel oor die lewe en hoe dit binne 'n oogwink net verby kan wees. Ek dink my vergelykings en verduideliking van die beelde het hulle bietjie aan die dink laat sit oor hul eie toekoms. ongelukkig kon ek nie die vier kwatryne in die een periode afhandel nie, en gaan dus Dinsdag die laaste twee voltooi - ek sien werklik uit daarna!

Vir Dramatiese Kunste het ek 'n praktiese klas aangebied. Die Gr.10-klas het verder gewerk met Fisiese teater en die verstaan van hul eie liggaam asook hoe dit in vergelyking met ander akteurs en aktrises se liggame staan. Aanvanklik was hulle baie giggelrig, 'n teken dat hul nog nie gemaklik is met hul liggaam as instrument op die verhoog nie. Dit was hul tweede klas en ek sien hul weer volgende week, so hopelik sal ek hulle kan kry dat hul ietwat meer gemaklik is.

Die skool se talentaand was Donderdag en ek was gevra om dit te emcee. Ek doen gereeld emcee geleenthede, maar was nogal taamlik senuweeagtig hierdie keer...seker maar omdat daar soveel onbewustelike druk was. Maar tog was dit 'n lekker aand.

As mens na bogenoemde kyk, dan klink dit nie so besig nie. Maar ek het elke aand beoordeel by die Deurbraakfees in Stellenbosch; het hoërskool leerders van ander skole afgerig vir hulle drama praktiese eksamens; emcee by die skool se toneelaand; en emcee by 'n vroue-ontbyt die Saterdag. Al hierdie geleenthede benodig voorbereiding. Voorbereiding wat taamlik tyd neem. En om dit dan saam met die skoolgee se voorbereiding te doen, laat my baie uitgeput. Maar die feit dat alles deel uitmaak van my passie, maak dit die moeite werd.

Ek het geweet ek het 'n liefde vir die onderwys, maar elke dag groei daardie liefde net meer en meer. Die skool moet net minder periodes gee waar ons moet toesig hou...

Sunday, 2 August 2015

Onderwys - 'n plek van goud

Week 2, wat verby was in ‘n oogwink, was ook die week waarin ek die produktiefste was! Twee kritlesse, een vir Drama (Gr.10 Fisiese Teater) en een vir Afrikaans (Gr.8 Poësie), het albei baie goed gegaan. Ek het soveel pret gehad om met die leerders te werk, veral die Gr.8’s! Die onderwys is werklik ‘n plek van goud met die pragtigste en interessantste individue!

My Afrikaanse les was groot pret! Ons het die bekende “Toemaar die donker man” van Ingrid Jonker analiseer. Ek het tydens week een by hierdie klas ingesit en hulle was taamlik ‘n energieke handvol, soos dit maar ‘n Gr.8 klas betaam. Maar onmiddelik toe ek in daardie klas instap, was hulle doodstil – die beste gevoel ooit! Met die verloop van die les het hulle ruim insiggewende opinies gelewer wat my hart baie bly gemaak het. Selfs die seun wat “gedigte haat”, het na die tyd vir my kom sê: “dit is ‘n baie mooi gedig, Juffrou”. Ek sal graag weer vir hulle wil klas gee!

Die Drama les was uitputtend, maar ek het baie genot daaruit geput! Dit was ‘n 80 minute les (dubbelperiode) waarin ek ‘n inleiding tot Fisiese Teater met die Gr.10’e gedoen het. Ons het almal gemaklike swartklere dra om gemaklik te kon rondbeweeg. Ek was aanvanklik ietwat senuweeagtig, want daar is ‘n dogter in die klas wie se hand en arm nie ten volle ontwikkel is nie. Ek het probeer om oefeninge uit te werk wat haar sal akkommodeer, maar dit was baie moeilik. Ek is toe na die onderwyser om te vra wat staan my te doen: “sy het gevra da tons haar hanteer soos enige ander leerder in die klas”. En so het ek geen spesiale aktiwiteit ontwerp nie. Ek het met vertroue die klas betree en sommer geweet dat sy elke aktiwiteit met oorgawe sou aanpak. So gebeur dit toe dat ons ‘n aktiwiteit doen oor liggaamlike isolering en ek verduidelik dat hulle net met een hand te werk. En tot my verbasing kies sy toe om met haar hand te werk wat nie ontwikkel het nie! En dit was vir my die mooiste oomblik tot dusver in my proeftydperk! Sy het selfs na die afloop van die les na my toe gekom en gesê baie dankie vir ‘n baie lekker klas! Dit is sulke oomblik in die onderwys wat dit uit en uit die moeite werd maak om tot laataan te sit met voobereiding!
Tesame met my twee kritlesse, moes ek die ander Drama-onderwyser se klasse oorneem vir drie dae. Hy moes gaan beoordeel in Springbok, maar het my nietemin werk gegee wat ek moes doen met Gr.9, 11 en 12 klasse. Met die matrikulante het ek praktiese werk gedoen, want hul finale praktiese eksamen vind oor drie weke plaas. Die Gr.11’e doen Realisme teorie, en Gr.9 doen die verskeie elemente van ‘n toneelstuk. Almal was baie pret, maar dit was nogal uitputtend. Maar Dramaklasse is dié plek waar ek absoluut in my element is! Selfs van my mede-proefonderwysers het kom insit by hierdie klasse. Ek is ruim opgewonde vir week drie!

Ek is nogsteeds betrokke met die naskoolse toneel. Vrydag het ek letterlik twaalf ure by die skool spandeer! Maar dit was vir my geen probleem, want ek doen presies waarvoor ek lief is!


Ek sien baie uit na week drie! Het ‘n paar kritlesse wat voorlê en die twee toneelstukke voer op by ‘n fees. Die skool het ook Donderdag ‘n talentaand waarvoor ek baie opgewonde is! Tot dusver is hierdie proeftydperk werklik ‘n insiggewende en aangename ondervinding!

Sunday, 26 July 2015

Juffrou van de Rhede - die proefstudent

Sondagaand 20:00 en die skoenlappers vlieg teen die spoed van witlig in my maag - wat om te verwag van dag 1? Om terug te keer na my alma mater in die hoedanigheid van proefstudent was die hoofrede vir my skoenlappers. Naas dit, spitsverkeer ("personeel moet stiptelik om 07:20 in die personeelkamer wees") en daaglikse uitrustings gepas vir 'n onnie ("geen jeans"). Dis tog net mens om 'n goeie indruk te wil maak by die personeel...    

Die ontwaking om 05:30 elke oggend was 'n tameletjie, veral na die lang vakansie se slaappatrone. Net om te besef dat 05:30 eintlik te laat is - 05:15 is 'n beter opsie...die spitsverkeer lewer meer verrassings as die middagete wat my Ma vir my inpak. Maar die opgewondenheid van wat elke dag moontlik kan lewer, het dit darem ietwat makliker gemaak.    

Die feit dat ek proef by my alma mater, het die week makliker gemaak. Ek is vertroud met die skooluitleg, die meerderheid van die onderwysers asook hoe die skool op 'n daaglikse basis funksioneer. Daar is wel 'n nuwe skoolhoof wat hier en daar 'n paar goed verander het, maar nuwe bloed is altyd goed. Ek voel baie tuis met my mentor-onderwyser (oud drama-onnie) en skroom nooit om hom enige iets te vra nie. Ek het dan ook kennis gemaak met die nuwe drama-onderwyseres en sy is baie behulpsaam. 

Dit is ietwat vreemd om in die klasse te sit en waar te neem, grootliks omdat dit vir die leerders vreemd is om 'n nuwe gesig te sien. Die jonger grade is al te gretig om meer van ons uit te vind, veral as ons toesig moes hou. Maar elke onderwyser het ons welkom geheet in sy of haar klas en ons voorgestel aan die klas. Die jonger grade (Gr. 8 en 9) is maar taamlik energiek en rusteloos, maar ek dink dis te danke aan die feit dat hulle weer moet stil sit en fokus na 'n lang en prettige vakansie. Matrikulante was alreeds gefokus vanaf dag 1, veral nadat hulle gehoor het dat hulle slegs 35 skooldae oor het. 

Tot dusver was die dramaklasse baie pret - ek het sommer dadelik ingespring en gehelp met die prakties. Ek het veral naskool gehelp met die toneelrepetisies - die skool het 3 produksies ingeskryf vir die Tygerberg Eistedfod en al 3 het baie goed gevaar! Dit was 'n wonderlike ervaring om saam met die leerders te werk. Hierdie leerders, gr. 8 - 12, was baie hardwerkend en het opbouende kritiek met ope arms aanvaar. Ons het ook lank gepraat oor hoe drama, teater en gevolglik toneelspel die akteur blootstel aan baie dinge, veral kwesbaarheid. 'n Mens moet sterk wees en jouself baie goed ken in die vermaaklikheidsbedryf.

Ek het maar eers net voete gevind tydens week 1. Dit was ietwat moeilik om lesse waar te neem, siende dat baie van die onderwysers die Junie vraestelle deurgegaan het en punte kontroleer het. 'n Paar het ook portefeuljes gepak. Week 1 was maar 'n administratief gedrewe week, alhoewel die matrikulante reeds aan die werk is.

Ek sien uit na week 2, want ek gaan begin les gee! Ek is verskriklik opgewonde om prettige lesse voor te berei wat ek en die klas sal geniet.