Ek het week 9 afgeskop met 'n groot teerpunt in my hart - die wete dat, wanneer die klok Vrydag lui vir die einde van die dag, is my proeftydperk verby. Ek was taamlik teneergedruk en pessimisties, maar het gou besef dat ek 'n ommekeer van my emosies sal moet ondergaan om te verseker dat ek die laaste paar dae my tyd by die skool geniet.
Eerstens het ek gesorg dat ek elke Dramaklas van beide Gr.10 en Gr.11 bywoon. Die Gr.10-klas is besig met voorbereiding vir hul praktiese eksamen. Die een groep meisies van die Gr.10-klas het uitstekende werk gelewer met hul eerste "optrede" van hul toneeluittreksel. Hulle was alreeds woordvas en het goeie kennis gehad van hul karakters, maar ongelukkig was daar nog geen bewegings uit gepluis ie. Aangesien hulle alreeds so ruim voorbereid was, kan dit nou net beter word van hier af. Ek het hulle definitief komplimenteer op die feit dat hulle die enigste groep is wat alreeds woordvas is! En in dieselfde asem het ek bietjie vuur gemaak onder die res, want die eksamen is om die draai en om 'n toneeluittreksel te doen is nie soos om vinnig die aand voor die tyd vir 'n toets te leer nie!
Die Gr.11-klas was besig met voorbereiding vir my laaste kritles wat Woensdag sou plaasvind. Hulle het nie Dinsdag klas gehad nie, so ek het hulle Maandag net vlugtig deur die proses (klas) gepraat wat Woensdag sou volg. Dit was vir my ook belangrik om hulle bewus te maak van die feit dat daar 'n vreemdeling binne ons veilige ruimte gaan wees, maar dat hulle net op my moet fokus en die taak op hande. Maar hulle was 'n absolute droom! Hulle het met die dosent kommunikeer asof hy al jare lank by die skool is en op hierdie manier vir ons almal op ons gemak gemaak. Die les was 'n reuse sukses waarin alle partye baie geleer het. Die leerders het dit so geniet dat hulle die volgende dag sommer vir die klasonderwyser gewys het wat ons vir prakties gedoen het. Dit was opreg vir my 'n absolute fees om saam met die Gr.11-dramaklas te werk.
Na Woensdag was die leerders ietwat gespanne. want dit was tyd vir leierverkiesings. Baie van die leerders in die Dramaklasse het gestaan vir Seniorleiers. In beide klasse het die onderwysers 'n gesprek gehad oor die resultate van die verkiesings. Ek kon sien dat daar van hulle is wat hul hele hoërskoolloopbaan op hierdie een verkiesings laat rus. baie tyd en energie is in beslag geneem vir die skryf van die toespraak wat die graad sal oorreed om hom of haar te kies. So dit was so belangrik dat die onderwysers gemeld dat indien jy verkies word tot leier, welgedaan en mag dit 'n goeie jaar wees, maar indien jy nié verkies is tot leier nie, dan is dit ook ok, want daar is 'n rede dat dit nie nou jou tyd is nie. En ek kon sien dat dit met die leerders resoneer en dat hulle dit verstaan, maar tog is dit makliker gesê as gedaan. Die Gr.10-onderwyseres het my Maandag laat weet wie van die Dramaleerders verkies is, en ek moet bieg ek was ruim trots op elkeen van hulle!
Toe Vrydag aanbreek was daar werklik 'n knop in my keel. Die ander proefstudente het gevra dat ek net ietsie in die personeelkamer sê rondom ons ervaring en dankbaarheid toon. Oppad skool toe het dit heeltyd in my kop gemaal wat ek sou sê, maar die oomblik toe ek in daardie personeelkamer instap, het ek onmiddelik geweet. Nog voordat ek 'n woord kon uiter, het ek alreeds 'n traan gepik - ruim bewys dat hierdie afgelope 9 weke werklik sentimentele waarde heg. In die klasse het leerders vir my briefies gegee saam met sjokolade en blomme om dankie te sê vir 'n genotvolle tyd en dat hulle soveel by my kon leer. Die Gr.10-drama-onderwyseres het ook vir 'n geskenkie gegee en gesê dankie dat sy soveel by my kon leer. My mentor-onderwyser het die mooiste geel rose gegee en dankie gesê vir al my harde werk en insette wat ek gelewer. Ek het nie een van hierdie geskenke verwag nie, maar dit was vir my 'n aanduiding dat ek myself goed van my taak gekwyt het. Ek het dan ook toevallig vir die onderwyseres ietsie kleins gekoop by wie ek leswaarnemings gedoen het asook lesaanbiedings gehad het. En almal het net soveel lof gehad oor my - werlik 'n geseënde ervaring waarin ek onsaglik baie geleer het en myself gate uit geniet het!
Die onderrig van jong volwassenes is werklik 'n eer, 'n voorreg en 'n absolute fees! Ek het werklik hierdie 9 weke terdeë geniet en kan dit maklik beskryf as een van my beste ervaringe van my lewe! Ek sal my proeftydperk by die Hoërskool Bellville vir niks verruil nie.
Hoërskool Bellville
Paratus ad omnia