Week 5 het gesorg vir verskeie opgewondenheid en ruim energieke leerders! Periodes was kort en kragtig en almal het gees gehad. Om dus 'n les aan te bied hierdie week was nou nie juis die gewenste tyd nie...
Die leerders het elke dag volgens 'n tema aangetrek. Dit was baie duidelik wie gees gehad het en wie eintlik maar net suurstof diewe was. Selfs die jonger onderwysers het rondgestap met geverfde gesigte en maskers. Die gange was versier met plakkate en leerders wat onsamehangend net rond hang. Die onderwysers moes hul dissiplinering ietwat opskerp hierdie week om sodoende nog optimaal lesse te kon aanbied, Maar daar was maar 'n onderduimse energie wat almal op hul tone gehou het.
Woensdag en Donderdag het elkeen 'n pouse gehad van 'n uur lank. In hierdie pouse was daar afsonderlik Touchies en Netbal gespeel - onnies teen die matrikulante. Die onderwysers was werklik meer opgewonde as die kinders! Hulle het toerusting gehad wat bymekaar pas tesame met onnies wat met pom-poms elke nou en dan oor die veld trippel. Leerders het hul gate uit geniet terwyl massiewe luidsprekers Trance musiek uitbasuin.


Die leerders was taamlik gehoorsaam, alhoewel ietwat onrustig by tye. Selde was daar leerders wat stokkies gedraai het of werklik probleme veroorsaak. Nou en dan was daar 'n leerder wat uitgestuur was, maar hulle het sommer vinnig hul les geleer. Tot en met Donderdag toe die leiers besluit dat daar 'n "massa bunk" gaan plaasvind, vir gees vang doeleindes. Dit gebeur toe dat meer as 70% van die skool, na die einde van 2de pouse, na die onderste pawiljoene stap terwyl hulle snig en vlaggies waai. was natuurlik baie pret vir hulle, selfs 'n onderwyser of twee het gedink dit is vir 'n goeie doel. Maar die hoof en vise-hoof van dissipline het glad nie gedink dit is oulik. Kort voor lank was die manspersoneel onder by die pawiljoene en het die leerders terug klasse toe gestuur. In die klas was daar 'n afkondiging dat register geneem moet word en binne die volgende 3 minute afgestuur moet word na die kantoor. Natuurlik aan die einde van die dag was die hoof self aan die woord met die afkondigings (iets wat nooit gebeur nie) met die oog daarop dat hy met die leerders gaan praat. Hy voltooi dus die afkondigings gevolg deur 'n vlugtige praatjie - "indien julle Saterdagoggend dieselfde gees kan toon soos wat julle vroeer getoon het met die massa bunk, sal ek vergeet van die reel wat julle oortree het". Die kinders het gejuig in die klasse en was baie beindruk met die hoof se besluit.
Saterdag was die groot dag vir Netbal en Rugby. Ek het ongelukkig Vrydagoggend ontwaak met erge griep, maar was tog nogsteeds daar vir die Netbal en Rygby. Die skool het in groot getalle opgedaag vir ondersteuning en het hul longe uitgesing met die Rugby. Dit was werklik 'n pragtige toonbeeld van skooltrots!
Ek het wel twee lesse aangebied hierdie week - georganiseerde chaos en al! My Graad 10-dramaklas het gesukkel met fokus toe kinders verby hardloop en skreeu "Bellville Bo!" in die gang. Maar ek het sommer gou daardie spul gestop en terug in hul klasse gekry en sodoende was my klas ook weer op hul plek. Die Graad 9-Afrikaansklas was 'n droom die Vrydag, selfs met die 30 minute les. Ek het vanselfsprekend nie klaargekry met die ontleding van die gedig nie, maar hulle was baie gehoorsaam en goed saamgewerk al was hulle ruim opgewonde oor 13:00 huistoe gaan!
Hierdie week was 'n fees - selfs met die griep en energieke tieners wat gees vang! As onderwyser moet jy deelneem aan die gees vang, want dit wys vir die leerders dat jy kan speel wanneer die tyd reg is, maar ook gefokus werk op ander tye. "Work hard, play harder" was maar my leuse vir week en ek het als gedoen gekry sonder 'n gejaag.