Sunday, 9 August 2015

Week 3 - 'auto pilot'

Week 3 was belaglik besig! Ek was op 'auto pilot' en skaars geregistreer wat aan die gebeur was. Nietemin was dit suksesvol met verskeie hoogtepunte!

Ek het twee Afrikaanse-lesse aangebied: Gr.8 het die gedig "Toemaar die donker man" deur Ingrid Jonker analiseer terwyl die Gr.12-klas "Kwatryne" deur Ina Rousseau ontleed het. Albei is voorgeskrewe gedigte vir die eksamens, so ek moes dus seker maak dat ek ruim voorbereid was. Tot my verbasing het die Gr.8's baie insiggewende kommentaar gelewer - mens dink mos maar altyd dat Gr.8's nie eintlik goed deurdinkte opinies kan lewer. Aan die anderkant was die matrikulante weer doodstil - Rousseau se Kwatryne handel oor die lewe en hoe dit binne 'n oogwink net verby kan wees. Ek dink my vergelykings en verduideliking van die beelde het hulle bietjie aan die dink laat sit oor hul eie toekoms. ongelukkig kon ek nie die vier kwatryne in die een periode afhandel nie, en gaan dus Dinsdag die laaste twee voltooi - ek sien werklik uit daarna!

Vir Dramatiese Kunste het ek 'n praktiese klas aangebied. Die Gr.10-klas het verder gewerk met Fisiese teater en die verstaan van hul eie liggaam asook hoe dit in vergelyking met ander akteurs en aktrises se liggame staan. Aanvanklik was hulle baie giggelrig, 'n teken dat hul nog nie gemaklik is met hul liggaam as instrument op die verhoog nie. Dit was hul tweede klas en ek sien hul weer volgende week, so hopelik sal ek hulle kan kry dat hul ietwat meer gemaklik is.

Die skool se talentaand was Donderdag en ek was gevra om dit te emcee. Ek doen gereeld emcee geleenthede, maar was nogal taamlik senuweeagtig hierdie keer...seker maar omdat daar soveel onbewustelike druk was. Maar tog was dit 'n lekker aand.

As mens na bogenoemde kyk, dan klink dit nie so besig nie. Maar ek het elke aand beoordeel by die Deurbraakfees in Stellenbosch; het hoƫrskool leerders van ander skole afgerig vir hulle drama praktiese eksamens; emcee by die skool se toneelaand; en emcee by 'n vroue-ontbyt die Saterdag. Al hierdie geleenthede benodig voorbereiding. Voorbereiding wat taamlik tyd neem. En om dit dan saam met die skoolgee se voorbereiding te doen, laat my baie uitgeput. Maar die feit dat alles deel uitmaak van my passie, maak dit die moeite werd.

Ek het geweet ek het 'n liefde vir die onderwys, maar elke dag groei daardie liefde net meer en meer. Die skool moet net minder periodes gee waar ons moet toesig hou...

1 comment:

  1. Busy Bee! It is certainly enlightening to know that you are making use of every opportunity that is out there....good on you! This is exactly how it should be, step forward and make yourself known. Be the student teacher the school would really want as part of their staff.

    You should never need to justify what you do because teachers perform multiple roles most of the time.

    What is clear is that you love what you are doing.

    Great stuff!

    ReplyDelete