Sunday, 26 July 2015

Juffrou van de Rhede - die proefstudent

Sondagaand 20:00 en die skoenlappers vlieg teen die spoed van witlig in my maag - wat om te verwag van dag 1? Om terug te keer na my alma mater in die hoedanigheid van proefstudent was die hoofrede vir my skoenlappers. Naas dit, spitsverkeer ("personeel moet stiptelik om 07:20 in die personeelkamer wees") en daaglikse uitrustings gepas vir 'n onnie ("geen jeans"). Dis tog net mens om 'n goeie indruk te wil maak by die personeel...    

Die ontwaking om 05:30 elke oggend was 'n tameletjie, veral na die lang vakansie se slaappatrone. Net om te besef dat 05:30 eintlik te laat is - 05:15 is 'n beter opsie...die spitsverkeer lewer meer verrassings as die middagete wat my Ma vir my inpak. Maar die opgewondenheid van wat elke dag moontlik kan lewer, het dit darem ietwat makliker gemaak.    

Die feit dat ek proef by my alma mater, het die week makliker gemaak. Ek is vertroud met die skooluitleg, die meerderheid van die onderwysers asook hoe die skool op 'n daaglikse basis funksioneer. Daar is wel 'n nuwe skoolhoof wat hier en daar 'n paar goed verander het, maar nuwe bloed is altyd goed. Ek voel baie tuis met my mentor-onderwyser (oud drama-onnie) en skroom nooit om hom enige iets te vra nie. Ek het dan ook kennis gemaak met die nuwe drama-onderwyseres en sy is baie behulpsaam. 

Dit is ietwat vreemd om in die klasse te sit en waar te neem, grootliks omdat dit vir die leerders vreemd is om 'n nuwe gesig te sien. Die jonger grade is al te gretig om meer van ons uit te vind, veral as ons toesig moes hou. Maar elke onderwyser het ons welkom geheet in sy of haar klas en ons voorgestel aan die klas. Die jonger grade (Gr. 8 en 9) is maar taamlik energiek en rusteloos, maar ek dink dis te danke aan die feit dat hulle weer moet stil sit en fokus na 'n lang en prettige vakansie. Matrikulante was alreeds gefokus vanaf dag 1, veral nadat hulle gehoor het dat hulle slegs 35 skooldae oor het. 

Tot dusver was die dramaklasse baie pret - ek het sommer dadelik ingespring en gehelp met die prakties. Ek het veral naskool gehelp met die toneelrepetisies - die skool het 3 produksies ingeskryf vir die Tygerberg Eistedfod en al 3 het baie goed gevaar! Dit was 'n wonderlike ervaring om saam met die leerders te werk. Hierdie leerders, gr. 8 - 12, was baie hardwerkend en het opbouende kritiek met ope arms aanvaar. Ons het ook lank gepraat oor hoe drama, teater en gevolglik toneelspel die akteur blootstel aan baie dinge, veral kwesbaarheid. 'n Mens moet sterk wees en jouself baie goed ken in die vermaaklikheidsbedryf.

Ek het maar eers net voete gevind tydens week 1. Dit was ietwat moeilik om lesse waar te neem, siende dat baie van die onderwysers die Junie vraestelle deurgegaan het en punte kontroleer het. 'n Paar het ook portefeuljes gepak. Week 1 was maar 'n administratief gedrewe week, alhoewel die matrikulante reeds aan die werk is.

Ek sien uit na week 2, want ek gaan begin les gee! Ek is verskriklik opgewonde om prettige lesse voor te berei wat ek en die klas sal geniet. 

1 comment:

  1. Your first week seems to have had a better start compared to others.
    I enjoyed your combination of enthusiasm and anxiety. As you have now witnessed, each day presents new surprises. Seek opportunities for help and support from your new colleagues (past teachers) whenever you can because some of the advice you will receive may prove to be invaluable in the future.
    You are now getting to witness just how a school operates from the front of a classroom rather than from behind a desk when you where a student there. Speak to the teachers about their assessments and the results.
    The interaction you will have with the students is something you should relish because you are a role model to them. The fact that you have already demonstrated that you are willing to help by staying behind to support upcoming production is a clear indication that you have the potential to make difference. Have a good and productive second week and remember to record your evidence on your tablet.

    ReplyDelete